Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID AFRIKAANSE RADIO LIGA NUUS SONDAG 15 MAART 2015

Goeiemore en welkom. Hier volg die SARL-nuus vir Sondag 15 Maart 2015 gelees deur..........(Naam; roepsein en QTH)
Jy kan elke Sondag om 08:15 plaaslike tyd na 'n uitsending van die SARL-nuus in Afrikaans en om 08:30 plaaslike tyd in Engels luister.
'n Teksweergawe van hierdie bulletins kan ook van die SARL webwerf,www.sarl.org.za afgelaai word en jy kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per epos te ontvang.

Daar is 'n skakel na 'n oudio weergawe van die bulletin op dieselfde blad beskikbaar.

IN DIE NUUS VANDAG

BESPREEK NOU VIR DIE SARL KONVENSIE IN BLOEMFONTEIN.

SARL HELP DIE RADIO SOCIETY OF ZAMBIA MET LISENSIëRING VAN AMATEURS.

SARL WIL AMATEURRADIO MEER BEKENDSTEL.

MOET NIE JOU OKOSA LISENSIEGELDE INBETAAL IN DIE SARL SE BANKREKENING.

Bly ingeskakel vir hierdie en ander belangrikke nuus.

** Bespreek nou vir die SARL se Nasionale Konvensie wat deur die Bloemfontein Amateurradioklub in die stad van Rose, vanaf 17 tot 19 April 2015 aangebied sal word.
Besprekings kan alreeds gedoen word en volle besonderhede is is nou beskikbaar op die SARL se webwerf by www.sarl.org
Vrydagaand word die Bloemfontein planetarium besoek, wat die enigste digitale planetarium in Afrika is.
Saterdagmiddag word vier aanbiedings deur die SARL@HOME span aangebied en daaronder tel die “WISPR en die 5 MHz voortplantingsnavorsingsprojek,” wat hanteer sal word deur Steward Moss, ZS6SGM.
Die gasheerspreker is Prof Matthiam Hoffman ,van die Universiteit van die Vrystaat ,wat `n terublikaanbieding sal doen oor audiovisuele aanbiedings in die afgelope 90 jaar.
Die Algemene Jaarvergadering van die SARL sal plaasvind op Saterdagoggend. SARL lede wie die Konvensie bywoon sal gratis toegang verkry, om die SARL@HOME aanbieding by te woon. Voltooi asb. U registrasievorm so spoedig moontlik en stuur dit onmiddellik terug, al woon jy net die AJV en SARL@HOME by.
Vir die gades van lede wie saamkom is daar ook `n program gereël. Bloemfontein is een van die vriendelikste en gasvrye stede in Suid-Afrika.


** Die SARL gaan die Radio Society of Zambia help met die lisensiėring van amateurs aldaar. In ooreenstemming met die bepalings van die ITU, vereis die Zambiese owerhede 'n geharmoniseerde amateurradio-eksamensertifikaat ('n HAREC) vir die uitreik van 'n lisensie.

In die verlede is hierdie sertifikaat uitgereik deur die Verenigde Koninkryk se City and Guilds nadat Zambiese kandidate die City and Guilds RAE geslaag het. Hierdie ooreenkoms is nou nie meer in werking nie.

Die Radio Society of Zambia het die SARL genader vir 'n ooreenkoms waarvolgens hulle kandidate die Suid-Afrikaanse RAE kan skryf. Onder die nuwe ooreenkoms, wat vervat is in 'n verstandhoudingsmemorandum, gaan Zambiese kandidate in die toekoms inskryf vir die Suid-Afrikaanse eksamen. Vir hierdie doel sal 'n SARL eksamensentrum in Zambiė geregistreer word en die Radio Society of Zambia sal verantwoordelik wees vir die lokaal, die opsieners en die sekerheidsmaatreėls en sal alle kostes dra. Die antwoordstelle sal na Suid-Afrika teruggestuur word en hier gemerk word. Vir die kandidate wat slaag, sal HAREC-sertifikate per koerier na die RSoZ gestuur word. Die Zambiese owerhede het reeds ingestem om die HARECs wat deur die SARL uitgereik word, te aanvaar.

Zambiese kandidate wat lede is van die Radio Society of Zambia kwalifiseer vir SADC-lidmaatskap van die SARL.
Hierdie ooreenkoms is soortgelyk aan die ooreenkoms wat die SARL reeds met die Namibiese Amateurradio-liga (NARL) het.

** Die Suid-Afrikaanse radioligaraad het twee weke gelede byeengekom vir die jaarlikse 2 dae bosberaad by die Nasionale Amateurradiosentrum. Hier is `n nuwe projek van stapel gestuur , wat sal poog om Amateurradio meer bekend te stel op verskillende regeringsvlakke. Tydens `n 3 uur lange bespreking het raadslede die voordele wat amateurradio, inwoners van Suid-Afrika kan bied, en die besmoontlike manier wat dit oorgedra kan word aan rolspelers, wat op hulle beurt weer `n positiewe invloed en ondersteuning, vir amateurradio kan bewerkstellig. Die doel hiervan is om Amateurradio weer terug te plaas in beheer van die Suid-Afrikaanse radioliga. Uitgebreide ondersteunings- en bemarkingsmateriaal word ontwikkel.
`n Volledige verslag sal ter tafel gelê word vir bespreking, ten tye van die komende algemene jaarvergadering in April.
Lede word versoek om die kommunikasie- en bemarkingsprojek te ondersteun, asook om te sê hoe hulle die waarde wat amateurradio vir die Suid-Afrikaanse publiek lewer, evalueer. Stuur jou inset na admin@sarl.org.za


** Die volgende SARL@HOME vind plaas op 28 Maart om 14:00 by die Nasionale Amateurradiosentrum. Die SARL se 5MHz voortplantingprojek sal onder die loep geneem word deur Steward Moss ZS6GM, wat die nuutste vordering met teenwoordiges sal deel. Kom vind meer uit oor hoe WSPR werk , hoe om dit te installeer en hoe om by die navorsingsprojek aan te sluit. Jy kan ook sommer `n koppie tee of koffie en die lekker samesyn geniet.
Alle amateurs is welkom, met of sonder, ondervinding. Om reëlings tov. verversings te vergemaklik stuur `n e/pos na rta@sarl.org.za of kontak Vonnie by telefoonommer 011-675-2393.

** Hier volg nou `n ernstige beroep op alle radio-amateurs. Moet asseblief onder geen omstandighede jou R120 amateurradiolisensiegelde inbetaal in die bankrekening van die SARL nie. Daar word onnodige druk geplaas op die SARL administrasiekantoor sowel as op die SARL se bankkostes in terme van nuwe addisionele transaksiekoste.
Indien jy wel so `n betaling gedoen het, en nie die SARL daarvan verwittig het nie, sal so `n betaling as `n donasie vir die president se fonds beskou word.
Die SARL sal nie jou lisensie namens jou hernu nie.
Betaal dus jou hernuwing vir die lisensie aan OKOSA soos uiteengesit in die Telekommunikasie wet.


** Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is van die volgende radioamateurs ontvang:
Michel de Kock, ZU1M;
Stephen van Jaarsveldt, ZS6SVJ;
Johan S du Toit, ZS4JT.
Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskapaansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.
Lidmaatskaptal van die SARL is tans 1630 plus 38 geaffilieerde klubs.


** Klubs word versoek om hulle kontakbesonderhede op te dateer.
Daar is 'n aantal klubs op die SARL webblad by www.sarl.org.za/public/local/ClubsList.asp met verouderde inligting. Die SARL versoek klubkomitees om die webblad te besoek en indien die inligting verouderd is, die inligting op te dateer deur op die "update" ikoon langs die klubroepsein te kliek. Opdateerde inligting sal op die SARL databasis gelaai word deur die kantoor adminstrasie.

Jy is ingeskakel op `n nuusbulletin van die Suid Afrikaanse radioliga.

** Die Suid Afrikaanse radioliga se 5MHz aktiwiteitsnaweek vind plaas op 28 en 29 Maart. Die eerste gedeelte begin om 06:00 en eindig om 08:00 plaaslike tyd en die tweede deel begin om 18:00 en eindig om 22:00 plaaslike tyd. Dit is `n Enkelsyband aktiwiteit op 5260 KHz en net SARL lede mag daaraan deelneem.
** Die Magalies Radio-Amateurklub gaan gedurende die naweek van 28-29 Maart deelneem aan die CQ World-Wide WPX kompetisie. Die kompetisie begin 0000 UTC op die Saterdag en eindig 2359 UTC op die Sondag. Die doel van die kompetisie is om wereldwyd kontak te maak met soveel as moontlik amateurs in soveel as moontlik verskillende lande.
Jy is ook baie welkom om as radio-operateur jou hulp aan te bied en aan die kompetisie deel te neem.
MRK nooi alle belanggstellendes om by die kompetisiestasie te kom kuier gedurende Saterdag en Sondag . Die kompetisiestasie word opgerig by Kleinfontein, Donkerhoek net oos van Pretoria. Braaivleisvure sal Saterdagmiddag beskikbaar wees. Bring jou stukkie vleis en iets om te drink en geniet die middag saam met die lede van MRK. Uiters veilige kampeerfassiliteite vir tente en karavane is ook beskikbaar.
Inligting en 'n kaart is beskikbaar op MRK se webblad by www.zs6mrk.org of kontak Pieter ZS6PA of Sam ZS6JZ. Pieter en Sam se kontak inligting is ook op die MRK webblad beskikbaar onder komiteelede.

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Sonvlek AR2297 het 'n "beta-gamma-delta" magneetveld wat genoeg energie vir X-klas sonfakkels huisves.

Die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 70 vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen.
Amateurs kan veral laatmiddag goeie openinge op die 20 tot 10 m DX bande verwag.
Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
17 tot 19 April – SARL konvensie in Bloemfontein.
28 Maart - SARL @HOME vind plaas by die Nasionale Amaterradio sentrum.
28 – 29 Maart – 5 MHz Aktiwiteitsnaweek .
28 – 29 Maart – Magalies radio-amateurklub op die lug met die CQ WW WPX kompetisie.

Om die bulletin mee af te sluit,`n terugblik op ons hoof nuusitem.
** Bespreek nou vir die SARL se Nasionale Konvensie wat deur die Bloemfontein Amateurradioklub in die stad van Rose, vanaf 17 tot 19 April 2015 aangebied sal word.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die “newsinbox” skakel nie later as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 sentraal Afrika tyd op 4895 kHz plaas. Ons ontvang graag jou seinrapport, kommentaar en voorstelle. Stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat saamgestel is deur Johann du Plessis ZS6PSS , geredigeer is deur Etienne Naude ZS6EFN en gelees was deur Dawie Conradie ZR6DHC.

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens

/EX








Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003